Biografie

Die Suid-Afrikaanse kunstenaar, Laurinda Homeyr, se talent as liedjieskrywer word vroeg in haar lewe reeds erken, nadat haar toonsettings van die gedigte “Ek het ’n huisie by die see”, “KabouterliefdeenVir ’n pepermossiedeur die vertolking van die sangeres Laurika Rauch bekendheid verwerf het.
Verse van bekende digters, soos Sheila Cussons, Antjie Krog, Breyten Breytenbach, kry nuwe, musikale baadjies met Laurinda se toonsetting daarvan.
 

Sedert die laat 1990’s is sy nie net betrokke by verskeie opnameprojekte nie, maar het sy ook, tot op hede, vyf solo-albums die lig laat sien – Perd oor die maan (1999), Ligdag (2003), Reis na die Suide (2008), wat ek wou sê (2015) en Afrique mon désir (2018). Erkenning vir haar albums sluit nominasies vir SAMA- en Ghoema-toekennings in, asook ʼn Geraas-musiektoekenning vir Beste Vervaardiging van die album Ligdag. Haar bydrae tot die Afrikaanse kultuur word in 2008 met ʼn FAK-toekenning vir Uitsonderlike Kultuurprestasie beloon.

Sy tree gereeld, hetsy as solokunstenaar of in samewerking met ander kunstenaars, by kuns- en musiekfeeste op. Vir hierdie optredes is sy reeds met verskeie toekennings bekroon, waaronder die Klein Karoo Nasionale Kunstefees se Kanna-toekennings sowel as WoordTROfees wat vir besondere Woordfeesproduksies toegeken word.

Laurinda tree sedert 2003 meermale op uitnodiging in Nederland en België op en in 2018 word haar album en gelyknamige produksie Afrique mon désir in Frankryk bekendgestel.

Haar kwalifikasies sluit ʼn BMus.Ed-graad en ʼn honneursgraad in klavierdidaktiek in, wat sy onderskeidelik in 1989 en 1990 aan die Universiteit van Pretoria verwerf het.

Sy en haar man, Jantjie Taljaard woon saam met hul dogter, Joanie, in die Paarl waar sy steeds privaat klavierlesse aanbied.