wat ek wou sê

Artist
Laurinda Hofmeyr
Released
2015
Genre
Afrikaanse musiek
  1. -:-- / -:--
  2. -:-- / -:--
  3. -:-- / -:--
  4. -:-- / -:--
  5. -:-- / -:--
  6. -:-- / -:--
  7. -:-- / -:--
  8. -:-- / -:--
  9. -:-- / -:--
  10. -:-- / -:--
  11. -:-- / -:--
  12. -:-- / -:--
  13. -:-- / -:--

Laurinda Hofmeyr – wat ek wou sê

Sewe jaar ná haar vorige album uitgereik is, word Laurinda se langverwagte nuwe CD, wat ek wou sê, (ondersteun deur Carel Hoffman van Hilltop Live) bekend gestel.

Laurinda se nuwe album, wat ek wou sê, is weereens die produk van haar samewerking met die beroemde baskitaarspeler en vervaardiger Schalk Joubert. Hierdie keer is ‘n groot deel van die album egter in Laurinda se eie huis in die Paarl opgeneem waar haar eie klavier gebruik is. Die kern orkes bestaan uit Laurinda (klavier en stem), Schalk Joubert (baskitaar en keybord), Kevin Gibson (tromme), Ronan Skillen (perkussie) en Mabet van Wyk (agtergrondsang). Die klank bly eerlik en getrou aan die orkes se werklike, lewendige klank. Daar is ‘n paar onverwagte afrondings (soos ‘n sopraan solo op “Moya”, ‘n vokale ensemble op “Vervulling” en ‘n strykkwartet op “23 Februarie”) wat bydra tot die diepte van die album. Die laaste snit is ook interessant aangesien die wysie van die “Onse Vader” in die agtergrond gehoor kan word. Opnames is gedoen deur Tim Rankin, klankvermenging deur Dave Langemann en meesterband deur Tim Lengfeld.

Soos al Laurinda se vorige albums is wat ek wou sê ‘n versameling van toonsettings van Afrikaanse digters se werk. Laurinda doen wat sy die beste doen – trou poësie met musiek op ‘n outentieke, vernuwende manier. Die beroemde Breyten Breytenbach het van Laurinda gesê: ‘Sy bevraagteken die teks, en uit daardie benadering kom ‘n tweesang. Sy sorg vir die teks soos ‘n Boeddhis na ‘n gewonde soldaat of ‘n blinde vrou sou omsien.’

Laurinda slaag daarin om “catchy tunes” te maak, musiek waarna mense oor en oor wil luister, terwyl sy terselfdertyd eg bly aan die essensie van die gedigte. Die musiek geniet wye aansien. Die feit dat haar liedere gereeld op RSG speel plus die feit dat wat ek wou sê ondersteun is deur Carel Hoffman van Oppikoppi (Hilltop Live) sê iets van die statuur en wyer toeganklikheid van Laurinda se musiek.

Wat ek wou sê (Hilltop Africa Live en Laurinda Hofmeyr, 2015) – nominated for a Ghoema Award in the category Best Alternative Afrikaans Album.