Afrique mon désir – Laurinda Hofmeyr & The Afrique mon désir Ensemble

Wes-Afrika en die Franse diaspora is dalk nie mees ooglopende konneksie met die musiek van Laurinda Hofmeyr nie, maar as jy bietjie dieper krap besef jy dat daar dalk nie ‘n meer gepaste kunstenaar is om die Weste van Afrika te herverbind met Frankryk via Suider Afrika nie. Hofmeyr self is ‘n produk van Afrika en Europa en haar buitengewone vermoë om haar unieke wêreld-musiek klank te vermeng met poësie uit onder andere Madagaskar, Ivoorkus en Kameroen skep ‘n goue lyn wat soos ‘n voedende naelstring deur hierdie meusleurende album strek. Die woorde van Antjie Krog en Eugene Marias lê knus saam met Malagasie trekklavier klanke en daardie tipies Wes-Afrika sang timbre wat so sterk herrinner aan die werk van Salif Keita, Yande Codou Sene, Ali Farka Touré en Youssou N’Dour. In enige iemand anders se hande kon hierdie kombinasie dalk ‘n resep vir ‘n verwarrende kulturele tydbom wees, maar Hofmeyr se uitsonderlike musikale oor en meesterlike komposisies smee hierdie uiteenlopende stilistiese elemente saam tot ‘n hegte en emosionele eenheid. Sy speel met komplekse ostinatos (ritmies en melodies) wat gemaklik en ongeforseerd voel en skep sodoende ‘n oudio (en ek verneem ook visuele) werk wat jy soos ‘n goeie boek van die begin tot by die einde in asem.

Sy is nie bang om te eksperimenteer nie en daarom sal sy nooit stagneer nie, en dit, is die kenmerk van ‘n visionêre musikant en kunstenaar. Vreesloos maar gekontroleerd. ‘n Rare verskynsel in die tyd van digitale spookasem en meganiese middelmatigheid.

Wikus du Toit.

WIKUS DU TOIT BIOGRAFIE

WIKUS DU TOIT, senior lektor in filmmusiek aan AFDA in Johannesburg, is ‘n bekroonde akteur , gepubliseerde skrywer, akademikus en eggenoot (in geen spesifieke volgorde van belangrikheid nie). Hy het ‘n Meestersgraad in Drama, ‘n Nagraadse Diploma in Tersiêre Onderrig en is tans besig met sy 2de Meestersgraad in Volwasse Onderwys waarin hy spesifiek fokus op die bevordering van kritiese denke en die fasilitering van kreatiwiteit in film musiek studente. Du Toit is ’n bekende op die verhoog met menigte toekennings asook ’n SAFTA-nominasie vir sy rol in kykNET se weghol-komedie sukses PROESSTRAAT.